Ek is Cara van Staden en ‘n graad 5 leerder en is ook die nuutste lid van die digitaleredaksie span. My gunsteling vakke is Afrikaans en wiskunde.

Ek speel graag netbal en hokkie en ook viool. Ek is ook mal daaroor om te lees. Ek het onlangs ‘n nuwe Afrikaanse skrywer, David Williams se werke ontdek en hy was sommer dadelik een van my gunstelinge.

As ek kon kies wat ons vir aandete moet eet, sal dit KFC wees . Ek hou NIKS van piesangs nie. As ek enige plek in die wêreld kon besoek sou dit Disneyland wees. Dit is sover baie lekker om ‘n joernalis te wees, omdat ek met baie mense kan praat! My perfekte vakansie is op die strand, met my maats en ‘n draairoomys in my hand.

My resep is ‘n heerlikheid van soet en suur!

BESTANDELE:
Suurlemoen Meringue Tert (Cara van Staden)
1 pakkie tennisbeskuitjies
2 blikke kondensmelk
4 eiers, geskei
125ml suurlemoensap
60ml strooisuiker

METODE:
Voorverhit die oond tot 180⁰C.
Maak die tennisbeskuitjies fyn en versprei onder-in die tertbak.
Meng die kondensmelk, eiergele en suurlemoensap en skep die vulsel oor die koekielaag.
Klits die eierwitte styf terwyl die strooisuiker stadig bygevoeg word. Klits tot styf en blink.
Skep die meringuelaag bo-op die vulsel.
Bak vir ongeveer 25 minute totdat die meringue goudbruin word.

Wie is dié?

Die skool is skaars ‘n maand aan die gang en ek kort al klaar ‘n vakansie. Om elke dag so vroeg op te staan, is nie my beste eienskap nie, maar tog is elke dag vol lekker dinge waarna ek kan uitsien.
Elke nou en dan kan ons pizza bestel, en as ek daardie heerlike stuk deeg ruik, vergeet ek sommer dadelik van die moeilike wiskunde toets vir more. Tog maak Afrikaans as vak die skool baie lekker.
Ek hou ook vreeslik daarvan om ‘n lekker tennis wedstryd te speel. Ek kan dalk lank in die son staan, maar wanneer ek ‘n perfekte bal langs die lyn afslaan, weet ek dit was als die moeite werd.
My klerestyl is maar eenvoudig , maar ek sal met liefde nou en dan ‘n hemp by my ouer suster leen. Ek is ‘n snaakse, unieke, malkop meisiekind wat elke dag van die lewe ten volle geniet!!

Hier is my WEN RESEP

Die mengelmoes-kardoes resep

KORS:
2 snye pizza
2 laaie vol sportklere
2 weke by die see

INHOUD:
2 hande vol Afrikaans
1 hart vol liefde
1 kop vol grappies
1 boekrak vol aksie storie boeke
1 website www.okulis.co.za
1 lewe vol Jesus

BOLAAG:
2 tennisrakkette in ‘n sak vol tennis-malheid

METODE:
Meng die bestanddele van die kors en voer die dag daarmee uit. Vir ekstra smaak kan 2 lepels lasagne bygevoeg word.
Meng al die bestanddele van die inhoud versigtig deurmekaar en voorkom enige klonte. Dis belangrik om deurentyd te kyk dat die liefde nie oorkook nie.
Klits die bolaag goed saam. Voeg vriende by vir versiering en kleur.
Laat rus vir ‘n paar minute en geniet!!

 

Is sy ‘n boekwurm?

My gunsteling vak op skool is Wiskunde. Ek, dis nou Inke Rademeyer, hou baie van syfers en ek het die wonderlikste juffrou wat vir my wiskunde gee.
My gunsteling kos is pasta en my gunsteling stokperdjie is om te lees en fiets te ry.
Ons hou gewoonlik in die omgewing van Hartenbos vakansie. Ek lees in my vryetyd graag Saartjie boeke en my gunsteling fliek is Nanny McFee.

Ek hou glad nie van piesangs nie, omdat my ma vir my kleintyd te veel daarvan gegee het. Ek hou baie van joernalistiek, omdat ek die kans kry om
onderhoude te voer en so mense beter te leer ken. Ek hou nie daarvan om berigte te skryf as ek toetse moet leer nie.
Ek is baie daarop ingestel dat ek in ‘n skool is wat die Here dien en Hom prys. Ek sê ook elke dag vir die Here dankie omdat Hy my so seën.
Ek hou daarvan om klere te dra wat in die mode is en wat mooi is.

My gunsteling lekkerny is sjokoladefudge en hier volg die resep:

BESTANDELE:
1liter (4k) suiker
45ml (3e) kakao
125ml (1/2 k) kondensmelk (Okulis wonder wat gebeur met die oorblywende kondensmelk …. mmm dalk na kleinsus toe?)
15ml (1e) gouestroop
1ml (1/4t) kremetart
2,5ml (1/2t) sout
375 ml (1 ½k) melk of water
15ml (1e) botter
5ml (1t) vanieljegeursel
190 ml (3/4 k) gekapte neute

METODE:
Meng al die bestanddele behalwe die botter, geursel en neute.
Verhit oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos het.
Kook sowat 10 minute lank sonder om te roer tot dit ‘n sagte bal vorm wanneer in koue water getoets word.
Voeg botter by en haal mengsel van stoof af. Moenie roer nie en laat afkoel totdat kastrol op die hand gehou kan word sonder om te brand.
Klop met ‘n houtlepel tot dit begin dik word en voeg geursel en neute by.
Giet dadelik in ‘n gesmeerde pannetjie uit en sny in blokkies wanneer koud.
Geniet dit!!

Is dié dalk ons swem ster?

Ek weet vir baie van julle is Wiskunde nie lekker nie, maar dit is my gunsteling vak.
Dis ek, Lisa Steyn, wat hou van lasagne en fudge, wat die meeste van die tyd in die swembad is en hou van lekker see vakansies!

Skool is vir my baie lekker en ek speel graag hokkie en geniet dit baie om saam met my maats te kuier.
Onbeskofte mense staan my nie aan nie!

Tussen fliek en boek lees, moet ek sê ek verkies boeke. Die lekkerste van al die geskrywery (redaksie) is tog die mense met wie ek in
aanraking kom en al die navorsing. Geloof speel ‘n groot rol in my menswees en in alles wat ek aanpak weet ek, ek is nie alleen nie.
Ek is tot alles instaat deur Hom wat my krag gee.

Ek hoop julle almal geniet dit net so baie soos ek om ‘n Possies te wees en om eendag op die redaksie te wil dien. Dis pret!

 

Suikersoet smelt in die mond fudge.

BESTANDELE:
125g botter
500g strooisuiker
1 blik kondensmelk

METODE:
Kook vir 10 minute in die mikrogolfoond. Roer elke minuut.
Gooi oor in gesmeerde bak en laat afkoel.
Sny in blokkies

Dis heerlik.

 

Ons eie blondie!

Ek is Nieke en op skool is my geliefkoosde vak Wiskunde, omdat ek ’n wiskunde onderwyseres wil word.
Pasta is my gunsteling kos, maar om spesifiek te wees, Alfredo pasta, om nie eers te praat van Mokkablokkies nie. Dit is seker die lekkkerste lekkerny op aarde! ( Resep onder aangeheg)
Tamatie en Aarbeie is nou nie juis vir my so lekker nie, so ek vermy dit liewer.

Ek en my gesin gaan vakansies na Groot Brak-Rivier toe om te ontspan en vakansie te hou. Dit is naby Mosselbaai geleë.
My klerestyl wat vir my gemaklik is, is óf oefen klere óf ’n gemaklike hemp en ’n oefen broek. My heel gunstelling boek om te lees is: Dagboek van die Wimpy kind.
Ek hou baie daarvan om berigte te skryf en meer van mense te leer.

My stokperdjie is om sport te beoefen, veral hokkie! Die afgelope Desember vakansie het ek egter versot geraak op “diamond dot art”, ek ontspan sommer net lekker as ek dit doen.

Ek sluit my dag af met stiltetyd. Dis wanneer ek rustig raak en besin oor nog ‘n besige dag en die Here dank vir alles wat ons het.

Mokkablokkie resep:

BESTANDELE:
250g Margarien
500g Versiersuiker
1 Blik Karamelkondensmelk
25ml Sterk swart koffie
10ml Vanilla
2 Pakkies Marie beskuitjies

METODE:
Verroom die margarien.
Klop die versiersuiker bietjie vir bietjie by.
Voeg die karamelkondesmelk, koffie en vanilla by en klop dit goed.
Breek die beskuitjies in sukkies en roer by die kondensmelk mengsel.
Druk plat in ’n gesmeerde bakplaat.
Verkoel in yskas en sny in blokkies.

Geniet !

 

Sy kan ‘n knoop in haar lyf maak!

“I love my life.” is die daaglikse woorde wat ek, Melmari, vir my ma sê. Die rede waarom ek dit sê, is omdat my lewe vol mense is
wat my lief het en daar is soveel lekker dinge in my lewe.

Die belangrikste ding vir my is my verhouding met God en om te groei in my godsdiens.

Wanneer ek wil ontspan sal ek Fuller house kyk of die boek Stalmaats lees. Hierdie twee dinge geniet ek die heel meeste as ons op
vakansie is by Mosselbaai, want deur die kwartaal is daar nie baie tyd vir televisie kyk of boek lees nie.

Ek hou nogal van skool, maar ek hou nie van vroeg opstaan nie. Dit wil vir my voorkom asof ek nie ‘n oggend persoon is nie.
Ek is gewoonlik die een wat laaste klaar is en almal roep altyd my naam by die kar. By die skool geniet ek al my vakke, maar ek
erken dis baie werk en soms moeilik.

Redaksiewerk gee my die geleentheid om met ander onderwysers te gesels.
Dis lekker om hulle bietjie vir ‘n slag vrae te kan vra. Ek weet ook nou dat dit nie maklik is om oor jouself te skryf nie.

Dans is my gunsteling sport en my passie, maar vat baie van my tyd. Ek dans byna elke dag en daarom is ek die meeste van die
tyd in oefen klere. Dis ‘n voorreg om iets te kan doen wat my gelukkig maak en wat ek kan geniet vandat ek 3 jaar oud is.

Ek wil graag raad, wat my baie help, met julle deel: “Doen elke dag net jou beste… God sal die res doen.”

 

My gunsteling kos sal my ma se mieliebrood wees.

BESTANDELE
1 blikkie kondensmelk.
1 blikkie room mielies.
500g bruismeel.

METODE
Meng al drie bestandele goed.
Sit in ‘n gesmeerde broodpannetjie.
Bak teen 180 grade tot gaar – goud bruin.
Bedien warm met egte botter.

Dis heerlik!