Ek het aan ‘n paar possie onnies se harte gaan klop en die deur oop gekry rondom ‘n paar vrae wat ek gehad het.

Juf Erika du Toit babbel klomp hartjies, want sy is kinderlik opgewonde op Valentynsdag. Hartjies en ballonne is vir haar sooo mooi. Haar raad aan my is dat mens moet omgee vir alle mense en nie net vir ‘n geliefde van jou nie. Haar man, al vir 7 jaar, is haar valentyn. Hulle het mekaar bederf met koffie in die bed, ‘n geskenkie en ekstra tyd gemaak om aan mekaar te spandeer.

My hartjie my liefie…

Sy het ook blomme gekry en sy deel met my dat sy voel Valentynsdag moet meer uitgelewe word, maar tog nie elke dag nie. “Dit is iets wat in ons lewens as Christene moet wees… om vir ander mense te sorg, vir hulle om te gee en vir hulle lief te wees. So daar moet nie iets wees wat vir ons daaraan herinner nie, dit moet deel wees van wie ons is.”

 

Juf Jollie Aldrich sprankel as sy sê dat Mnr Paul altyd haar valentyn sal bly. Sy het pouse vir hom sy gunsteling biltong slaai gestuur met ‘n glimlag gesiggie op, want sy hou daarvan om mense te bederf met iets lekkers wat hulle kan eet. “Dis ‘n liefdesdag en jy moet iets gee wat uit jou hart uit kom.” Hulle albei voel daar hoef nie ‘n datum of ‘n dag te wees wat jy iemand bederf nie, so hulle bederf nie eintlik mekaar op ‘n datum nie. Mnr. Paul bederf haar nou en dan met ‘n bos blomme by die huis. Die opgewondenheid en die gr eentjies se gesiggies wanneer hulle vir juffrou ‘n roos gee is vir haar die beste en die mooiste. Omdat sy mal is oor rooi is valentynsdag vir haar ‘n wonderlike dag. ‘n Boksie Smarties en ‘n valentynsuigstokkie van ‘n seuntjie, wat laas jaar in haar klas was, het die rooi dag baie spesiaal vir haar gemaak.

 

By Juf Alba Moller ervaar ek ‘n gevoel van vrede wanneer ons oor liefde praat. Vir haar beteken Valentynsdag dat jy vir die mense vir wie jy lief is ietsie spesiaal kan doen. Ek is so bly sy is met sjokolade en blomme bederf, want sy dink dit is die heel beste. Juf Alba sê: “Die idee van liefde is elke dag, maar ek hou van Valentynsdag een maal ‘n jaar, want dan gaan mens groot… Mens kan nie elke dag so groot gaan nie.” Sy het vir haar geliefdes lekker kos gemaak, want vir haar is die mooiste ding, van Valentynsdag, dat jy wys jy gee om.

 

“Valentynsdag beteken vir my om vir iemand spesiaal te wys dat jy omgee.” sê Mnr. Ruben Coetzee. “Dis die mooiste ding om te sien hoe almal vir almal omgee en hoe ander so bietjie uit hulle gemaksone kom wanneer hulle vir ander wys dat hulle omgee.” Sy vrou, Amory, is sy spesiale valentyn. Hy het gloeilampies, met lekkers in, uit die dak laat hang en na werk, toe sy in die kamer instap, het sy die gloeilampies gesien. Sy het daarvan gehou en sy het vir hom sy gunsteling kos gekook, skaapboud. Mnr. Ruben dink dat Valentynsdag net een keer ‘n jaar moet wees, want dit lê klem op daai een spesifieke dag in die jaar en so maak dit daardie dag meer spesiaal.

 

Mnr. Ruben Maree het 2 valentyne. Sy vrou, Elizma, en sy klein hondtjie, Mila, wat ‘n pitbullie is. Elizma is elke dag sy spesiale valentyn en hulle het lekker gaan uiteet, want hy is nie so erg op presente nie en wil eerder kwaliteit tyd saam spandeer. Mnr. Ruben het ‘n obsessie met Versus kouse… hy het ‘n hele versameling daarvan daarom wys Elizma haar liefde vir hom deur ‘n paar daarvan vir hom te koop. Hy sê Valentysdag moet elke dag uitgelewe word, maar dat daar baie mense is wat baie spandeer op geskenke en hulle sal dalk dan nie meer salaris oor het nie. Ons moet onthou dat daardie spesiale persoon dalk nie altyd daar gaan wees nie en daarom moet mens elke dag vir daardie spesiale persoon wys jy is lief vir hulle en jy gee om anders gaan jy dalk die volgende jaar dit nie vir hul kan doen nie. Hy het nog nooit iemand kwaad gesien op Valentynsdag nie en dis vir hom die beste en mooiste ding van Valentynsdag. “Dis ook mooi om te sien hoe almal die hele tyd glimlag en die liefde in hulle oë kan sien.” sê hy.

Deur die dag het die possies liefde oral oor gesprinkel en ons het ‘n suikersoet, bloedrooi, lollipop dag gehad.
Rose is rooi en viooltjies is blou maar dit bly steeds vaal teenoor jou……. (Gedeelte aangehaal uit: Uit my hart net vir jou. Deur Callie Vermeulen)

GELUKKIGE VALENTYNSDAG, van Possieland aan jou!