Vrydag 4 Desember breek uiteindelik aan na weke se beplannings, voorbereidings, videolesings en aankope. Die vorige weke se opgewondenheid het daardie oggend in hoogste rat oorgeskakel. Aflaai en aandra, waentjie pak en aanhak aan die bussie. Die manne kan nie gou genoeg beweeg nie. Die opgewondenheid is hoorbaar en aanvoelbaar. (Wat verwag mens dan ook anders van 13 manne wat ‘n hele Covid-jaar moes wag vir die geleentheid?)

Nadat al die sakke, stokke, aas (genoeg om ‘n hengelwinkel vir ses maande van voorraad te voorsien), penne, gazebo’s en proviand gelaai was, was daar ogies toegemaak en toe klim die manne. Die pad is lank, amper te lank vir sommiges.

Op Hoopstad was daar ‘n vinnige pitstop om die nodige broodjies aan te koop. Noodgedwonge moet daar ook by die slaghuis gestop word. ‘n Man het darem ‘n vleisie en biltong nodig vir die naweek!

By die blyplek aangekom, was die manne kinderlik opgewonde oor die hoë vlak van die Vaalrivier. Die slaapplek indeling was ‘n noodsaaklike aktiwiteit (al die saagmasjiene op een hoop en die wat hul slaap nodig gehad het in ander kamers), maar was met militêre presisie en spoed afgehandel – die visse staan al op die stertvin en roep.

Langs die oewer was dit baie gou gou ‘n geskarrel om die stasies reg te kry en aas aan te sit en gereed te wees as die hengelkaptein sê gooi. (Dit is nogals interessant om te sien hoe so ‘n klomp manne elkeen sy eie stokke en penne so vinnig uit die warboel van gerei kon eien!) Spoedig was die manne gereed en kom die aankondiging: “GOoooiiii!” . Sjoerrrrrrrrrrrrr!, klink ‘n menigte van katrolle soos die manne die aas diep waters toe stuur. Eerste stok is in, sjoerrrrrrr, word die tweede aas dieptes toe gestuur. Die hande en knieë bewe! Wie vang die eerste vis? Daar’s ‘n splinter nuwe pienk visstok op die spel – PIENK ja! Baie dankie Gary Lindeque van Lincon Construction vir jou gulle bydrae en borgskap. Dit was opreg waardeer.

Het hom! Skree Pieter en bring ‘n vissie op die wal uit – nie dat dit nou ‘n skaal veel sou laat buig het nie, maar ‘n eerste vis is ‘n eerste vis en so kry die pienk stok toe ‘n baas. Geluk Pieter, en almal klap hande toe die hengelkaptein daar en dan die stok oorhandig. Nie lank daarna nie, was dit weer Maddie se beurt. Die keer met die klein vissie – haai siestog die ou dingetjie was nog nie eens gespeen nie.

Gou gou word daar by die verskillende stasies spoed opgetel na die stokke met skreeuende katrolle. Die Schuster lidjie, “By Die Rugby Onthaal” word gesing van die mamma’s teen die mure, hou telling van die biere, maar hiér word daar net telling gehou van die visse. Hoeveel het julle? Ses en julle? Sewe! Hoeveel het Sakkie en Maddie? Al agt! Die kompetisie word al strawwer en die tellings klim al hoër en sommige manne vang al meer. Sommige visse sal ‘n hengelaar van formaat nou nie in uitgelese gesêlskap na wil verwys nie, maar dit is ook nodig net om die balans reg te stel – ons praat nou van die Ghieliemientjies wat sommige manne uitgetrek het, nadat hulle hoog en laag sweer dat dit nou ‘n meneer van ‘n vis aan daardie hoek is!

Wanneer die manne diep kant vassit, word daar soms onbehendig in geroei om te gaan losmaak. Met so ‘n inroei slag het Pieter toe heelwat meer gekry as wat hy verwag het. Met die omdraai slag het hy die kano soos ‘n wafferse renjaer gerol en drink hy toe amper die rivier leeg. Ons lewensredder, Rooi Ruben, was die hero van die dag en het in geswem om die kano te red sodat ander hengelaars dit darem ook nog kon gebruik. Gelukkig het Pieter bly vasklou en ook saam uitgekom!

Vassit en in roei om los te maak en afbreek van stroppe, ‘n geskertsery en spog kenmerk die eerste dag. Die aand tydens die braai was die manne moeg, maar trots het op menige van hulle se gesigte gewys. ‘n Goeie dag se visvangs was verby!

Die tweede dag se hengel het vir sommiges reeds om half ses afgeskop, of sal mens maar eerder sê lyne natgemaak. So ‘n paar minder kompeterende hengelaars het eers so by half agt die visse begin voer. Vroeg vroeg was die kompetisie aan en het die visse met goeie reëlmaat ingekom. Die hengelkaptein het ook sy rekening geopen met ‘n goeie vangs wat skaal toe moes gaan. Daar was omtrent ‘n buffet van geure en kleure en aas. Die visse kon werklik kies wat hulle wou eet. Spiderman, Perdeby, piesang, bruin brood, Tiger nuts (grotes en kleintjies), pit-mielies, vla-degies, gewone degies, erdwurms, dooie geelvinke, mieliebomme en wat nie nog alles nie.

‘n Klompie mooi karpe van tussen 2 tot 3,2kg is ook soms geland. Sakkie het baie trots sy 2,5kg karp geweeg, wetende dat dit ‘n trofee wenner kan wees.

Nie lank in die dag in nie, het die reën die manne se spoed, maar nie die geesdrif, so ‘n biejtie gedemp. Die manne het teësinnig opgepak en huis se kant toe vertrek om daar by die waters teen ons huis verder te hengel. Die visse het steeds die manne se aas en doepa’s kom opsoek en het soms sommer twee stokke gelyk laat skree. Teen die einde van dag twee was sommige manne moeg gevang. Die gemiddelde vistellings tussen die manne het gewissel van 28 tot 45 oor die twee dae.

Dag twee was afgesluit met ‘n heerlike braai. Rondom die braai was daar steeds bespiegel of Sakkie se noedelslaai (wat vrek lekker was) enige aandeel gehad het in sy en Maddie se goeie vangste – daar is van die manne wat beweringe gemaak het, maar niks kon bewys word nie.

Sondagoggend het die manne moeg maar hoogs tevrede vertrek. Almal was dit eens dat dit weereens ‘n uiterste geslaagde en genotvolle naweek was. Dit was hengel op sy beste gewees, beslis nie visvang nie, niemand se elmboog was styf of seer nie! Veral Sakkie was baie tevrede met sy trofee vir die grootste vis – net terloops, ‘n barber is glo nie ‘n vis nie – altans nie op hierdie naweek se hengel nie. Was dit wel gereken sou Riaan met sy barber van 4kg+ die trofee weggeraap het voor Sakkie.

Groot dank aan almal wat ‘n bydrae gemaak het. Aan Casper wat sy geriewe aan ons beskikbaar gestel het. Die hengelkaptein, mnr Kotzé, vir sy aandeel, en al die ander manne wat borgskappe gekry het en sommer net daar was!

Tot 2021!