Klop-klop… Wie’s daar? Niemand, want ons moet by die huis bly. Melmari, Nieke, Inke, Lisa en Mia het die moeite gaan doen om paar Possies vrae te gaan vra oor hoe hulle nou oor COVID-19 voel. Hier volg die vrae en hul menings.
1. Dink jy dat baie mense hulle nog aan die COVID beperkings steur? Hoekom sê jy so?
Mense steur hulle nie meer aan die reëls nie, want hulle kuier en hou partytjies en haal dan hulle maskers af. Ek dink baie mense is nie meer so ernstig oor die reëls nie, want die strate word al hoe besiger met meer motors wat van plek tot plek beweeg.
2. Hou jy nog streng by die COVID-19 beperking?
Ja, want my lewe is vir my belangrik, so ek dra ‘n masker en saniteer gereeld soos dit ‘n goeie burger betaam.
3. As jy na jou punte kyk van die afgelope assesserings tyd, dink jy die COVID beperkings het jou geaffekteer?
Ek is tevrede met my punte, alhoewel ek beter kon doen, ek het nog ‘n kans.
4. Die dae wanneer jy tuis bly, doen jy regtig jou deel met jou huiswerk of is dit meer soos ‘n afdag vir jou?
Ek doen my huiswerk, want dit is ‘n skooldag, maar ek geniet die vryheid na die tyd.
5. Is jy oor die algemeen tevrede met die werk en tyd wat jy insit tydens die COVID beperkings?
Ja, ek kan baie meer tyd aan my werk spandeer omdat daar nie sport is nie. Ek dink nie ek het al ooit so baie werk in ‘n kort tydjie gedoen en geleer nie.
6. Wat sal jy graag wil hê moet gebeur rondom COVID?
Ek wil hê die COVID moet uitwis, sodat ek vir my juffrou ‘n drukkie kan gee. COVID moet terug gaan van waar dit kom en daar sy nonsens aanvang.
7. Het jy vir ons ‘n lekker grappie oor COVID?
COVID-19 is die langste ding wat hou wat in China gemaak is.
Twee oumas het gespog met hul kleinkinders. Die een ouma sê vir die ander: “My kleinkinders is so goed met social distancing hulle bel my nie eers nie.”
Covid is nie ‘n grap nie, dis ‘n tragedie.
Berig saamgestel en geskryf deur: Melmari Pretorius en Nieke Simkin