Die afgelope vakansie is die SA Tweekamp Kampioenskappe gehou in PE/Queberha in die Oos-Kaap. 18 van ons Possie-atlete is gekies vir die SVS-span om daar deel te neem en ons is sommer baie trots op hulle almal.
By hierdie byeenkoms was daar ook ‘n Nasionale Skole kompetisie, waartydens 12 laerskole van die verskillende provinsies om ‘n trofee meegeding het. WPPS het ‘n algehele tweede plek behaal op grond van hul prestasies.
Die volgende atlete het onder die top 10 in hul ouderdomsgroepe geëindig :
Philip le Roux (seuns onder 15 ) – 5 de
Anè Pienaar (dogters onder 11) – 7 de
Annabel Meyer (dogters onder 11 ) – 9 de
Tweekamp behels ‘n sekere afstand wat gehardloop word en dan ‘n sekere afstand volgens die ouderdomsgroepe, wat geswem word daarna. Die o/9 en o/11 atlete hardloop 400m en swem 50m, die onder 13 atlete hardloop 800m en swem 50 m, terwyl die onder 15 atlete ook 800 m hardloop, maar 100m swem.
Philip le Roux sê die lekkerste van die tweekamp was vir hom die swem, omdat hy ‘n nuwe, beste tyd geswem het in die 100m. “Ek was baie bly en dankbaar toe ek my uitslae gekry het. Daar was 65 seuns en die kompetisie was baie straf!”
Vir Dries van Tonder wat ook deelgeneem het, was die optog voor die tyd een van die hoogtepunte! “Ek was so trots om ‘n Possie te wees! Ek kan nie wag vir volgende jaar nie, dan gaan ons vir die eerste plek!”
Nog ‘n leerder wat deel van die span was, Michelle Pienaar, sê ook dat die optog vooraf vir haar ‘n groot hoogtepunt was, veral om al die provinsies in hul provinsiale kleure te sien. “Die 800m is vir my die lekkerste, want as jy sleg begin het jy nog tyd om op te maak, maar die swem is vir my net te kort!”
Die atlete wat gesorg het dat Willem Postma die tweede plek behaal het, is:
Niel Shaw
Liam Shaw
Dries van Tonder
Philip le Roux
Annabel Meyer
Anè Pienaar
Wilhandi Meyer
Michelle Pienaar
Ashleigh de Jager
Dani Grobler

Possies…in 2023 is ons eerste!