Vir die eerste keer in ons lewens en ek glo ook ons ouers s’n, is ons in ‘n grendeltyd… ons President, Mnr. Cyril Ramaposa, wil ons beskerm teen ‘n gogga, met gevaarlike tentakels, wat tans in die wêreld ronddwaal soos ‘n dief in die nag en ons “normale” daaglikse doen en late tot stilstand geruk het. Sodoende gaan ons nou aan met skoolwerk deur middel van aanlyn tegnologie.

Die digitale redaksie span het gaan inloer by ‘n klompie van ons leerders (nie fisies gaan kuier nie… dit is teen die wet), maar so deur die 4G netwerke bo en onder ons. Ons wou weet van hul ondervindinge en ervaringe rakende die aanlyn skoolwerk.
Vrae aan hul was as volg:

1. HOE VOEL JY OOR AANLYN SKOOLWERK?
Meeste ervaar dit as lekker. Hul kan op hul eie aangaan, en is nie gedruk vir tyd nie… Kan in slaapklere of gewone klere en pantoffels “skoolgaan”. Stefan Streicher Gr. 5 vergeet nie meer sy penne- en vaksakkies nie. Nieke Matheé Gr. 6 sê dat baie tyd gespaar word deur nie klasse te wissel nie en Ameli Bezuidenhout Gr. 6 pas haar eie pouses toe waartydens sy met haar troeteldiere speel.
WJ Greyling hou baie van die manier. Sy ma help hom met die meeste werk. Sy ouer broer verduidelik Wiskunde en sy pa is die skoolhoof wat na sy werk moet kyk.
Vir ‘n paar is dit nogal sleg, maar beter as sit en niks doen nie. Ons hoofdogter Elbé van der Merwe Gr. 7, verkies die direkte kontak met onderwysers, want nou kan daar nie vrae gevra word nie. Onderwysers en hul grappies word ook baie gemis.

2. WAT GENIET JULLE?
Ruben Smith Gr. 5 geniet die laat slaap in die oggende. Baie Possies voel hul kan in stilte werk en terselfdertyd na musiek luister. Kommunikasie met vriende via whatsapp is vir Carmia van den Berg Gr. 5 ‘n groot treffer. MJ Nienaber Gr. 7 is bly hy kan self sy skedule beplan om ook tyd te maak vir Golfoefeninge.

3. WAT GENIET JULLE NIE?
Olivia Moorcraft en Dorethe Meyer albei in Gr. 6, verkies gewone skool bo tuisonderrig. Volgens Olivia is haar skoolonderwysers kwaaier as haar tuis juffrou, maar vir Dorethe is dit andersom. Wicko Carstens Gr. 5 beskryf sy kamer as ‘n ouetehuis waarvan sy ma die hoof matrone is. Hesmarie van der Berg Gr. 7 sê hul kry baie werk en onderwysers is nie teenwoordig om dadelik te kan verduidelik nie. Die Possies sê dis ‘n groot aanpassing met heeltemal te veel werk, want take is nie slegs skoolwerk nie, maar ook huistake. Jaundre Weideman Gr. 5 mis die interaksie met klasmaats, vriende en onderwysers. Pouses se geselsies laat ook ‘n baie groot leemte by die Possies. Party sukkel met die internet wat hang en hang… as daai sirkeltjie so draai en draai voel dit sommer hul wil waai.

4. DINK JY AANLYN IS ‘N GOEIE DING?
Positiewe gevoel onder die leerders is dat dit baie help sodat hul nie agter raak met skool nie. Dit leer ook selfdissipline. Jana van der Merwe Gr. 6 (Sit ook nog by a regte outydse skoolbank en leer) slaan die spyker op die kop as sy sê: “Dit maak dat mens uit die boks moet dink.” Volgens Nieke Mattheé Gr. 6 geniet sy dit om op haar eie skool te gaan, maar sy mis haar pousekos, netball en hokkie. Niemand trek nou Lené Human Gr. 6 se aandag af nie, maar tog mis sy ook haar vriendinne en pouses. Goeie raad van Alberta Marais Gr. 6 is dat leerders selfstandig moet werk en verantwoordelikheid neem. Dan sal ons by die nuwe leerplan kan byhou.

5. HOE VOEL OUERS OOR AANLYN?
Aanvanklik was dit ‘n geroei en gestoei om gewoond te raak en ritme te kry. Dit is egter ‘n goeie hulpmiddel om met skool voort te gaan. Dit is baie rustiger deur nie van punt A na B te jaag nie. Maar verkies nog steeds skool vir die sosiale ontwikkeling van leerders en omdat hul bang is hul vergeet of los iets uit.

Die van die ouers wat nie die rustigheid ervaar omrede dit nou tuisonderig sowel as huistake is nie… kan gerus die raad van Lené Human Gr. 6 se ouers volg… drink maar elke oggend ‘n Redbull!