Aktueel

POSSIELAND GROET ‘N LEGENDE!

Juffrou Steph het as jong onderwyseres haar onderwysloopbaan by Onze Rust begin. Sy sê dat sy die eerste jare van onderwys nuut,
vreemd en opwindend gevind het. Sy het skoenlappers op haar maag gevoel op haar eerste dag as juffrou.
Hulle moes in daardie tyd baie netjies aantrek, met sykouse en skoene.

Sy sê dat die skuif na Willem Postma op ‘n goeie tyd vir haar gekom het. Behalwe vir wiskunde, het juffrou Steph
dit baie geniet om netbal en hoogspring af te rig, aangesien dit ook die sportsoorte is waaraan sy sélf op skool deelgeneem het.

Volgens juffrou Steph is die lekkerste van skoolhou om te sien wanneer ‘n liggie in ‘n leerder se gesig aangaan as hulle die werk
verstaan. Na 36 jaar en 4 maande gaan sy egter nou die “Basics” verruil vir vele stokperdjies soos tuin- en handwerk.

Juffrou Steph groet die Possies met die volgende woorde: “Waardeer julle skool en onderwysers. Hulle het julle beste belange
op die hart. Werk hard en speel hard. Lees jou Bybel elke dag en wees dankbaar vir alles.”

Juffrou Steph, ons gaan juffrou mis! Mag juffrou se pad vorentoe nét so gelukkig wees soos die een wat juffrou in Possieland gestap het.