Aktueel

POSSIE PERSONEEL IS BESIGE MENSE TYDENS DIE INPERKING

By 2020-04-15 No Comments

Hoe ervaar Possie personeel die inperking wil baie seker weet? Wel, die digitaleredaksiespan het met van die Possie personeel gesels om te hoor wat doen hulle tydens die inperking. Daar het nogal verskeie interessante dinge uitgekom.

Melmarie Pretorius het twee dierbare juffrouens gekontak om uit te vind wat hul in die mou voer tydens inperking. Juffrou Maude, ‘n gr. 1 Possie onderwyseres, sê dat covid-19 vir haar lekker laat tuis raak, al het sy ‘n operasie in haar hand gehad. Dit stop haar egter nie om die beste van die inperking te maak nie. Sy kan ongelukkig nie veel doen nie, maar bou tog legkaarte en geniet ‘n draffie om die swembad of haar oefenfiets.

Sing speke sing

‘n Vreeslike slegte ding wat sy ervaar het is dat haar pa, die eerste dag van die inperking, oorlede is. Volgens juf. Maude is die res sommer baie lekker!

Juf. Lee-Ann, ‘n gr. 6 onderwyseres, ervaar die inperking goed, so voor haar troue en dink dit is ‘n goeie ding, want sy en haar verloofde leer mekaar beter ken en geniet dit om tyd saam te spandeer.

Eet duifie, eet tog asseblief

Sy is wel nogals bekommerd dat die kinders al die werk wat sy in kwartaal 1 behandel het gaan vergeet. Sy verlang na haar kollegas, die kinders se grappe en hul sin vir humor. Haar boodskap aan ons Possies is dat ons nie ons waardes moet vergeet nie. Ons moet voorbeeldige possies bly en ons moet nie die onderwysers te veel mis nie.

————————————————
Zivan Vermaak het met twee interessante juffrouens gesels om hulle tydverdrywe te verneem. Albei was dit eens dat almal, ja selfs die onderwysers, maar skool mis, want hierdie inperkingstyd raak nou net te lank! Ek het met Juf Wilna en Juf Karien telefoniese onderhoude gevoer om hulle opinie oor hierdie buitengewoon lang vakansie te kry.
Juffrou Karien ken glad nie die woord “verveeld” nie. Sy maak klere, maak tuin,

Groei boompie groei!

maak reg en pak weg. Maar haar gunstelling aktiwiteit is om Master Chef te kyk en hul resepte in haar kombuis te probeer. “Ek wens ons kon die spesiale disse gaan proe.” Sy waardeer die kans om die belangrikheid van Paasfees te onthou, maar sy mis die Possie gesiggies en hul drukkies.

Juffrou Wilna is baie opgewonde oor haar splinternuwe projek. Sy is betrokke by die voorbereiding van die DigiCampus digitale onderrig program. Dit word een van die dae aan ons leerders vrygestel om met belangrike skoolwerk voort te gaan terwyl die inperkingstyd nog aanhou. Verder sê sy dat sy tussendeur stapels boeke lees, bak-en-brou, en bordspeletjies speel en sy het kosbare geleentheid om na geestelike boodskappe te luister en by die Here uit te kom.

Speel skool al is dit vakansie.

Albei juffrouens moedig die Possies aan om positief te wees, die beste van die tyd te maak en hulself mooi op te pas. Een van die dae is alles weer normaal en sit elke Possie gelukkig agter sy stoel en werk.

————————————————

Inke Rademeyer het vir juffrou Aninka en juf Hetta ‘n paar vrae gevra.

Hoe raak die inperking vir juffrou?
Juffrou Hetta laat weet dat dit lekker is dat hulle as ‘n gesin saam by die huis is en goeters saam kan doen. Haar man werk normaalweg baie weg van die huis af en kry nie tyd om iets saam te kan doen nie.
Juffrou Aninka beskryf dit as n tydperk waar die hele wêreld, wat in ‘n baie besige en gejaagde tyd was, tot stilstand gebring is.

Wat doen juffrou nou in hierdie tyd?
Juffrou Hetta is besig om alles in en om die huis blink te poets en sorg dat alles op sy plek is.
Juffrou Aninka het nou behoorlik in haar nuwe huis ingetrek. Al die kamers en kaste word reggepak. Sy het genoeg goed om haar vir ‘n rukkie besig te hou, soos tuinmaak. Sy voel in hierdie tyd naby die natuur en die Skepper. Daar is tyd vir naaldwerk doen en ‘n bietjie skilder.

Hoe ervaar juffrou en juffrou se gesin hierdie tyd?
Juffrou Hetta sê dat dit ‘n lekker gesin tyd saam is.

Ek sal julle besig hou!

Hulle kuier lekker saam en doen ‘n bietjie ekstra Bybel studie.
Juffrou Aninka beleef dat hierdie tyd vir haar en haar gesin ‘n bietjie frustrerend is.

Juf Aninka en haar jongste dogter.

Haar een kind is in Matriek en die ander een op universiteit, hulle leer elke dag hard om op datum te bly. Al die diere loop die hele dag agter haar aan

Waarna smag juffrou die meeste?
Juffrou Hetta wil graag weer haar kinders in haar klassie sien.
Juffrou Aninka wil ‘n lang pad ry, soos om by familie of vriende te gaan kuier. Sy sȇ dat hierdie ‘n eenmaal-in-n-leeftyd ervaring is, wat so onverwags gekom het. Die natuur is dankbaar , want niemand besoedel hom nie.

Wat is juffrou se gevoel oor die skool wat gesluit is?
Juffrou Hetta sê dat God ‘n doel met alles het en as dit is dat ons as gesinne nader aan mekaar moet kom, of die pas verslap, dan is dit so.
Juffrou Aninka sê dat sy die skool en kinders mis. Dit gaan ‘n groot aanpassing wees om jou afstand te hou. Sy dink dat dit goed is dat die skool vir eers gesluit is.

Wat is juffrou se boodskap?
Juffrou Hetta: “Die boodskap aan almal is: geniet die tyd, doen goed saam en die belangrikste is:
kuier as ‘n gesin saam.”
Juffrou Aninka: “Dat almal veilig moet wees, was julle hande, luister en wees lief vir mekaar.”

——————————————

Nieke Simkin het aan mnr Kotzé en juf Grete gevra hoe hulle fie verlengde inperkingstyd hanteer.

Mnr Kotzé
Hoe raak Covid-19 meneer tuis? Ek voel soos ‘n voëltjie wat ingehok is en niks kan doen nie.
Waarmee bly meneer besig in hierdie inperkingtyd?
Ek pak reg, werk in die tuin en speel speletjies saam met my gesin.

Die Kotze-gesin glo daar is niks soos lekker lag nie!

Waarna smag meneer die meeste?
Om van aangesig tot aangesig saam met my vriende te kan kuier .
Hoe voel meneer oor die verlengde inperking?
Ek mis die kinders en kry die ouers jammer wat hulle moet besig hou.
Wat is meneer se boodskap vir die Possies?
Gebruik hierdie gesinstyd, sorg dat jy lees, help jou ouers met takies, pas jouself op en bly gesond.

Juf Grethe:

Hoe raak covid-19 juffrou tuis?
Ek dink die President het vinnig opgetree om die inperking in te stel om sodoende ons almal te probeer beskerm teen die virus. Die gesinstyd is vir my baie lekker, maar ek mis dit om met my ander familie te kan kuier.

Die brakke is ook juf Grethe se kinders.

Waarmee bly juffrou besig in hierdie inperkingstyd? Ek pak reg, pak weg, maak skoon en oefen. Ek en my kinders bak en brou ook nou en dan iets lekkers in die kombuis.
Waarna smag juffrou die meeste?
‘n Pienk Wimpy melkskommel.
Hoe voel juffrou oor die verlengde inperkingstyd?
Ek raak angstig oor die verlore akademiese tyd. Maar ek glo met genade en harde werk sal ons die verlore werk klaar kry voor die eksamens.

——————————————————————

Het jy dalk al gewonder wat vang van ons menere aan tydens die inperking? Wel ek, Lisa Steyn, het gaan uitvind waarmee hulle hulself besig hou……..
Ek het met meneer Ruben Coetzee en meneer Matthew gesels:
1. Wat doen meneer alles in die inperkingstyd?
Ruben: “Ek bly op ‘n plot, so oefen en draf elke oggend. Ek “chip” en speel lekker gholf

Wat ‘n hou daai mnr Ruben!

en dan doen ek ook DigiTv se DigiCampus klasse, waar ek aanlyn klas gee vir die Possies.”
Matthew: “Ek kyk YouTube video’s wat oor gholf gaan en speel gholf op die PlayStation. Ek speel ook gholf op my foon en het selfs vir my ‘n “chipping-green” in die tuin gemaak, net om seker te maak my gholf tegniek kan verbeter in hierdie tyd.”

Mnr Matthew het daai Golf houding!

2. Het meneer dalk soos juf. Elsie enige versteekte talente ontdek?
Ruben: “Ek het ontdek dat ek baie lekker kos kan maak en eintlik ‘n goeie huisman sal maak.”
Matthew: “Ek het tydens die inperkingstyd ook besef dat ek baie van kosmaak hou en dat ek eintlik goed is daarin.”

3. Wat mis meneer die meeste van skool?
Ruben: “Mis verseker die kinders se gesiggies en die sport afrigting.”
Matthew: “Ek mis dit om die grootste deel van my dag buite te wees en by sport betrokke te wees. Ek mis dit om die kinders te kan help verbeter, maar ek mis ook die geselskap van my kollegas.”

4. Hoe ervaar meneer die gesinstyd?
Ruben: ‘’Baie bbaaiiee lekker, ek het sommer nou baie tyd om intiem tyd saam met my vrou en die Here deur te bring.”
Matthew: “Ons probeer maar besig bly deur lekker kaart- en bordspeletjies te speel. Dit hou die gemoedere gemaklik. Daar is nou meer tyd om ordentlik te kommunikeer, aangesien die skool veroorsaak dat ek meestal laat in die aande by die huis kom.”

5. Hoe bly meneer fiks? Gee asb ‘n paar “tips”:
Ruben: ‘’Soos ek genoem het bly ek op ‘n plot, so ek gaan draf lekker, maar ek vat dit stadig(haha) – draf vir 1 minuut, stap vir 30 sekondes en dan herhaal ek dit so 10 keer.’’
Matthew: “Ek het ‘n lekker program wat ek kan volg en kyk ook gereeld uit vir uitdagings op YouTube soos bv. Die “ChaCha Slide Plank Challenge”. Ek dink die belangrikste is nie noodwendig om te oefen nie, maar om aktief te bly. Dit gaan nie help mens sit net heeldag op die bank nie, probeer uithelp met huistakies en neem inisiatief om jou ouers te help in die huis.’’

6. Wat is meneer se boodskap vir die Possies?
Ruben: ‘’Ek hoop julle geniet die rustyd, want wanneer ons terug is gaan ons werk dat die spoeg spat!!’’
Matthew: ‘’Moenie toelaat dat die huidige/tydelike omstandighede jou onder kry nie, staan sterk in jou geloof en onthou waar jou Krag vandaan kom. Bly positief, hou by die basiese higiëne en bly veilig. Ek sien uit om julle weer by die skool te sien wanneer omstandighede weer beter is.’’

7. En nou is die tydperk van inperking verleng……… wat is meneer se gevoel daaroor?
Ruben: “EK KAN NIE….. dit is seker nodig, maar ek is ‘n mense mens , nou weet ek nie hoe gaan ek maak nie…..”
Matthew: “Natuurlik as EBW meneer, kan mens nie help om te wroeg oor die impak wat die inperking en die verlenging daarvan op die ekonomie gaan hê nie. Ek kan nie wag om dit met julle in die klas verder te bespreek nie. Maar terselfde tyd, dink ek ons kan bly wees dat ons president omgee oor ons land en ons mense. Partykeer moet mens moeilike en slegte besluite neem om te verseker dat die langtermyn doel bereik word. Dit is nie ‘n lekker situasie nie, maar soms moet mens maar die groter prentjie in ag neem in plaas van om net te konsentreer op jouself en wat vir jou gerieflik is.”

Dit klink darem vir my of die menere na ons Possies ook verlang, baie fiks gaan wees, uitgerus gaan wees en ‘n barshou gaan slaan. Possies sal beslis hulle gholfdag moet hou!

__________________________

ONDERHOUDE MET JUFFROU MARGARET EN JUF RIA HUMAN SOOS DEUR MIA NEYBURGH GEVOER

Juf Margaret
1. Hoe raak COVID 19 vir Juffrou tuis?
Vir my is dit nogal erg want ek is alleen, maar ek weet die Vader help my deur dit.
2. Wat doen Juffrou nou in hierdie inperkingstyd?
Ek maak die huis skoon en ry drie keer `n week vulstasie toe.
3. Hoe ervaar Juffrou se gesin die tydperk tot dusver?
My sussie is baie positief en ek en sy moedig mekaar maar die heeltyd aan.

Juf Margaret, is hy nie bietjie groot vir skoot-sit nie?

4. Hoe voel Juffrou oor die feit dat die skool gesluit is en oor die kinders?
Ek voel sleg want kinders kort opvoeding ,maar kry hulle darem “bonding tyd” saam met hulle ouers en die virus kan darem nie versprei nie.
5. Waarna smag Juffrou die meeste?
Ek smag daarna om by die kerk te wees en die Here te prys.
6. Het juffrou `n spesifieke boodskap vir die possies?
Hou moed en glo in die Here.
7. Mis juffrou baie kinders om juffrou?
Ja ek mis die kinders verskriklik baie.

Juf Ria
1. Hoe raak COVID 19 vir Juffrou tuis?
Die eerste weke was baie erg, maar ons bly besig.
2. Wat doen Juffrou nou in hierdie inperkingstyd?
Ek bly besig deurdat ek huis skoonmaak, ek kyk sepies en flieks en ek teken die afgelope tyd nogal baie.

‘n Meesterstuk in wording onder die vaardige hande van juf Ria.

3. Hoe ervaar Juffrou se gesin die tydperk tot dusver?
Ons geniet eintlik die tyd. Ons kan nou meer dinge saam doen.
4. Hoe voel Juffrou oor die feit dat die skool gesluit is en oor die kinders?
Dis is baie sleg vir my vir die kinders se onthalwe, sowel as my eie, maar ek weet ons sal hier deur kom.
5. Waarna smag Juffrou die meeste?
Ek kan nie wag om weer saam met my vriende en familie te kuier nie. Ek mis almal so baie en sommer om net weer die gevoel van vryheid te ervaar.
6. Het juffrou `n spesifieke boodskap vir die possies?
Jy moet baie tyd spandeer saam met jou ouers en sommer lekker dinge saam met hulle doen.
7. Mis juffrou baie kinders om juffrou?
Ek mis die kinders baie en kan ek nie meer wag dat die skool moet begin nie, want ek kort kinders om my.