Sport

Philip is Rosestad se Junior Sportster vir 2022

By 2022-06-07 No Comments

Op 31 Mei is Philip le Roux, ‘n trotse Willem Postma leerling, vir sy uitstaande swem prestasies by Radio Rosestad se sportontbyt vereer. Dié ontbyt is gehou by Jim Fouché Hoërskool en is ‘n geleentheid om erkenning te gee aan sportpresteerders en vir die bydrae wat hulle lewer. Hier het Philip die toekenning ontvang vir Rosestad Junior Sportster vir 2022.

 

Philip se prestasies sluit in sy deelname aan die SA-skole swemkampioenskap 26 tot 28 Maart, waar hy een goue medalje, twee silver medaljes  en ‘n brons medalje gewen het, sowel as die toekenning as Junior Victor Ludorum. Verder het hy ook een goue, silwer en brons medalje by die SA-streeks Junior Kampioenskappe gewen. Altesaam 37 goue medaljes gewen tydens klub galas en die Inter-Primêre-swemgala gedurende hierdie swemseisoen.

 

Swem is Philip se gunsteling sport en hy behoort aan die Bull-sharks Swemklub. Sy gunsteling swemstyl is die 50,100 en 200 m vryslag. Hy oefen vyf keer ‘n week regdeur die jaar en daarom kon hy die rekord breek in 50 m vryslag en 50 m vlinderslag by die Interprimêr hierdie jaar. Philip doen ook tweekamp en het vroeër hierdie jaar aan die SA-tweekampkampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem.

 

In sy vrye tyd jag hy graag of speel Xbox saam met sy vriende. Phillip se raad en aanmoediging vir jong swemmers is: “Dis ‘n sport wat jy baie moet oefen, so werk hard en gee jou beste.”

Philip le Roux