Aktueel

NA 38 JAAR TREE JUF MARIAAN AF!

Na meer as 38 jaar, verlaat juffrou Mariaan Hugo, Willem Postma.
So gesels sy met ons.

Ek het eintlik op baie plekke “grootgeword”, want my pa het gewerk vir Vrystaat koöperasie en daarom het ons baie getrek. My skoolloopbaan het egter begin op Hangklip in Queenstown. Ek het matriek geskryf in Upington op Upington Hoërskool.

My pa is oorlede toe ek in st 9 was en ek wou baie graag B.Com gaan swot het op Stellenbosch, maar het toe liewer besluit om onderwys te swot in Bloemfontein om nader aan die huis by my ma te wees en sy was ‘n onderwyseres. Ek het ‘n beurs gekry by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege en daarom was dit op daardie stadium, die maklikste keuse. Een waaroor ek nooit spyt is nie.

My onderwys loopbaan het begin by Willem Postma en daarom is ek al meer as 38 jaar en 7 maande by Willem Postma.

Dit was daardie tyd, net soos nou, baie lekker om skool te hou. Daar was egter nie die tegnologie van vandag nie en ook nie dinge soos fotostaatmasjiene nie. Jy het skoolgehou met ‘n tru-projektor en moes transpirante self maak. Omdat ons nie fotostaatmasjiene gehad het nie, moes jy tot ‘n jelliepan maak om meer as een werkvel te kon maak. Jy moes blou wasvelle skryf met jou hand op sulke blokkiespapier en dan alles met jou hand afrol. Wat baie lekker was, was die feit dat jy ‘n sandtafel in jou klas gehad het en die kinders het baie klei gespeel en baie meer met opvoedkundige goed in die klas gespeel.

Daardie jare het mens op baie uitstappies gegaan en plekke besoek. Jy het met jou klas gaan treinry en op Sannaspos piekniek gehou. Jy het ‘n kaasfabriek, broodfabriek en melkkery en sulke plekke besoek sodat die kinders kon leer waar alles vandaan kom. Mens kon baie meer stories lees en vertel en selfs lekker skoolhou met handskoenpoppe. Al jou apparaat en hulpmiddels moes jy self maak en die hoeveelheid werk was baie minder as in vandag se tyd. Die kinders se rapporte was net simbole vir Afrikaans, Wiskunde en Skrif. Die kinders was op ‘n manier soeter, sou ek sê, want hulle het alles geglo wat juffrou gesê het en die tempo en pas waarmee ons gewerk het was net baie rustiger en stadiger. Vandag lees en sien kinders baie goed op televisie en kan alles op die internet Google.

My eerste dag en jaar wat ek skoolgehou het was vir die St.1 klas en dit was waar juf. Jacqui se klas nou is. Die skoolhoof van daardie tyd, Mnr. Zietsman, het my toe geskuif na die Sub B’s toe. Tot vandag was ek die heeltyd in my loopbaan ‘n Gr. 2 juffrou. Ook was my klas daardie tyd een van die asbes klasse wat vandag die middagstudie plek is. Juf. Janet van die kantoor, was in st. 1 in my klas. (1983)

Wat juffrou baie goed kan onthou is toe al die kinders in die klas voor my gesit het en hulle plekke het, het ek vinnig uit die klas gehardloop na Juf. Karin Takt se klas en vir haar gesê: “Die kinders sit nou op hulle plekke, so wat maak ek nou?”

Daardie jare mag ons glad nie langbroeke gedra het as dit nie ‘n broekpak was nie. Jou baadjie moes oor jou “boude” wees. Jou skoene en die soom van jou rok het bymekaar gepas – soos wat die mode was – en jy het sulke breë belde gedra en mens se hare was “geperm” en ja ek kan nie vandag glo ek het op sulke hoë hakke/platforms skoolgehou nie!

Daardie jare was daar ‘n Gazette en het jy aansoek gedoen by ‘n skool en op so ‘n manier het ek die pos by Willem Postma gekry. Die mens wik, maar God beskik.

Daar is altyd mooi en goeie oomblikke in mens se onderwysloopbaan. Wanneer ‘n kind wat sukkel om te lees –ewe skielik lees of ‘n som kan doen is dit vir my “uitstaande oomblikke”. Daar is ook ander dinge wat mens as uitstaande kan beskryf soos ‘n netbalspan wat die liga wen of dinge wat in die Sand du Plessis teater opgevoer is, waarvan “Gelukkige Asjas” ‘n groot hoogtepunt was.

Elke kunswedstryd en kinders wat jy afgerig het met ‘n gediggie of spreekkoor, sit ‘n veer in jou hoed as hulle goeie simbole kry. Baie konserte wat deur die jare op die skool se verhoog opgevoer is en waaraan jy ‘n aandeel in gehad het, is vir my baie kosbaar. Net te veel om op te noem.

Slegte oomblikke vergeet mens genadiglik gou. Ek onthou egter die keer toe juffrou een van die skool se kombi’s gestamp het op ‘n uitstappie voor die slaghuis. Die eienaar van die spoggerige BMW het toe pas gehoor hy moet ‘n hartomleiding kry!

Ek is baie lief vir musiek en lees. In my vrye tyd hou ek daarvan om opgekrul te lê met n boek, musiek te luister en n goeie fliek te kyk. Ek hou ook daarvan om een of ander lekker kreatiewe handwerk aanpak of net gaan stap in die veld. Ek het eenkeer die Visrivier Canyon gaan stap en dit was ‘n lewensveranderende ervaring! Ek hoop om nou wel weer te kan begin fietsry.

By Willem Postma het ek in hierdie 38 jaar baie sportsoorte afgerig van mini-krieket, netbal, swem, tennis, voortrekkers en skaak. Hoogtepunte is maar altyd as ‘n span sou wen, maar dit was meer belangrik dat almal alles geniet wat hulle doen. Die eerste keer toe ‘n 0/9 netbalspan van my gewen het, was juffrou Alida in die span!

Die toekoms in die onderwys, glo ek, gaan verander en beroepe wat kinders gaan doen bestaan dalk nog nie eers vandag nie. Tegnologie en aanlyn klasse gaan dalk meer ingespan word. Maar ek glo, veral in die grondslagfase, kan die onderwyser nie regtig vervang word nie. Solank kinders ‘n gees van leergierigheid het en hulle omring met mense wat meer weet en gedurig vrae vra, sal dit goed gaan.

Na my uittrede wil ek my besig hou met dit wat die Here op my pad plaas en saam met my man, André, en 2 kinders, Juan en Marcelle lekker staproetes doen en hopelik een van die dae kan begin reis.

My boodskap aan die kinders vir Willem Postma sal wees om te begeer om die ore van ‘n Samuel te hê; om God se stem te hoor. Om soos Salomo te vra vir gehoorsaamheid en wysheid en om te gaan leer by die 4 klein diertjies waarvan Spr. 30: 24 – 28 praat. Die miertjies is baie klein maar werk baie hard. Die dassies is nie ‘n magtige volk nie, maar tog bou hulle hulle huise daar in die rotse; want hulle weet daar is hulle veilig. Die sprinkane het nie ‘n koning, maar hulle trek in ‘n swerm – niemand sê vir hulle wat om te doen nie, maar elkeen doen sy deel en plig. Die geitjie is maar swak, maar jy sal hom vind selfs in ‘n koning se paleis. Maak Jesus jou Koning, Hy is die ewige Rots. Gee jou lewe oor aan Jesus en vertrou Hom met alles, want Hy sal vir jou sorg, jou naam is in Sy handpalms gegraveer. Hy is jou Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Raadsman en Vredevors.