Nadat ek vir die eerste keer in my lewe redenaars kompetisie, in ‘n lokaal met net een kameraman, gaan praat het, het ek by ons skoolhoof gaan inloer en hom gepeper met vrae oor COVID-19 en hoe dit ons skool beïnvloed het. Die vrae was aan mnr Kotzé gerig:

1. Wat was mnr. se eerste gedagte toe meneer hoor die skole gaan sluit om die COVID-19 virus te probeer hokslaan?
Aan die eenkant was ek verlig , ter wille van die veiligheid van ons onderwysers en ons leerders, maar aan die anderkant het ons nie eintlik verwag dit gaan so lank wees nie.

2. Wat was mnr. se grootste bekommernis of vrees tydens die lang inperkingstyd rondom die COVID-19 pandemie ?
Die veiligheid van ons personeel , veral die wat ouer is . Mens weet nie watter onderliggende siektes het mense nie en wat die invloed sal wees as hulle sou COVID-19 opdoen nie. Die ander grootste bekommernis was oor die kinders se akademie en hoe dit vir ons leerders gaan beïnvloed vir die jaar .

3. Het hierdie bekommernis homself uitgespeel soos mnr. gevrees het?
Aan die eenkant ja , want van ons leerders en personeel het COVID-19 opgedoen. Genadiglik was hulle nie so siek soos wat mens van gelees het nie en daaroor was ek baie bly gewees . Rondom die akademie en die sport was dit vir almal n baie slegte jaar , so my bekommernisse het waar geword rondom dit .

4. Hoe het mnr. en die bestuurspan dit hanteer ?
Ons het honderde planne gemaak en elke keer net as ons planne in plek was het die departement net weer iets anders op die tafel gesit . So ja, ons het geleer om baie planne te maak.

5. Wat was mnr. se grootste frustrasie rondom die inperkingstyd rakende administrasie, sanitasie, ouers, kinders en personeel?
Soos ek genoem het, is dat die departement so nou en dan hulle planne bly verander het nes ons goed in plek was. Sanitasie was nie regtig ‘n probleem gewees nie. Geen sport vir leerders is ‘n groot frustrasie. Dit is baie sleg vir almal. Ouers moes kinders by die huis leer en besig hou, ek dink vir baie ouers was dit ‘n groot frustrasie. Rondom die personeel het ek nie frustrasies gehad nie, hulle was n klomp ysters. Hulle moes nuwe goed leer met Google Classroom en hoe om virtueel klas te gee. Hulle het meer as hulle deel gedoen.

6. Hoe beleef mnr. die hele opset nou dat die skool al geruime tyd aan die gang is rondom ouers, kinders en personeel?
Ek dink dat die kinders nog steeds beangs is . Die kleiner groepe in die klas werk baie lekker. Vir die ouers is dit nog steeds ‘n uitdaging. As beide ouers werk moet hulle elke alternatiewe dag toesig kry vir hulle kinders. Gelukkig het elke groep, elke week ‘n lang naweek, So, dit is eintlik lekker vir julle. Die personeel is maar bekommerd oor hoe die kinders gaan vorder. Gelukkig is ons akademie nie agter nie. Ek glo ons gaan die jaar mooi voluit voltooi.

7. Wat staan vir mnr. tydens die hele covid 19 tydperk vanaf Maart tot vandag uit as n hartseer saak of insident ?
Daar is ‘n klomp hartseer goed… mense wat geliefdes verloor het as gevolg van COVID-19. Die feit dat mens nie vir iemand in die hospitaal kan gaan besoek nie. Baie mense het hul werk verloor en dit gaan swaar met van ons ouers. Dit het weer ‘n invloed op die betaling van skoolgelde wat die skool onder druk sit om al sy finansiële verpligtinge te kan nakom. Ons hoop, glo en vertrou dat ons volgende jaar weer sal kan terug keer na normaal. Dit bekommer my tog dat almal praat van ‘n tweede golf wat ons kan tref. Dit kan weer ‘n groot invloed op ons skool het.

8. Wat staan vir mnr. tydens die hele COVID-19 tydperk vanaf Maart tot vandag uit as ‘n baie humoristiese saak of insident?
Daar was nie baie humor tydens hierdie pandemie nie. In die oggende waar ons die skandering doen lag ons partykeer lekker vir die kindertjies… soms vergeet een ‘n masker of soms is hulle so nat van die sanitering.

9. As mnr. iets moet noem wat mnr. hieruit geleer het as ‘n lewensles of om aan vas te hou vir die lewe vorentoe, wat sal dit wees?
Niks is vir seker nie. Jy weet nie hoe jou lewe die volgende dag gaan lyk nie. Elke dag is genade en mens moet elke dag so leef asof dit jou laaste is. Jy moet doen wat jy kan elke oomblik van die dag.

10. Het mnr. ‘n boodskap wat mnr. graag aan elke Possie personeellid, ouers en kinders wou rig?
Ons moet glo en vertrou. Die Here sal vir ons lei deur hierdie hele ding… Al kom daar donker tye, Hy is met en by ons. Ons kan elke dag Sy hand van genade en beskerming oor ons almal sien en voel.

Ons kalm skoolhoof het my ook sommer kalm gemaak. Ek het beleef hoe in beheer hy is en van nou af klou ek saam met hom aan Psalm 91… dit maak nie saak wat die aanslae is nie… met die Here aan ons kant SAL ons dit kan oorwin.