Aktueel

HOE VOEL POSSIES OOR COVID?

Die redaksiespan het van ons Possies in Gr. 5-7, genader om meer uit te vind hulle persoonlike gevoel rondom COVID-19. Ons het die volgende vrae aan hulle gevra:

1. Is jy bang om Covid-19 op te doen?
Die meeste Possies is bang en skrikkerig om die virus te kry, want hulle weet hulle kan ‘n draer wees en so hul geliefdes aansteek. Die gedagte om alleen te wees tydens isolasie is ook angswekkend. Tog glo en vertrou almal op die Here. Een uit tien Possies is nie bang vir COVID-19 nie, maar wil dit tog nie hê nie.

2. Is jy, of een van jou gesinslede ‘n hoë risiko geval sou jul COVID-19 opdoen?
Almal voel hul ouers, ouma’s en oupa’s is ‘n hoë risiko. Daar is leerlinge wat besonder bekommerd is oor hul ouers wat ‘n auto-immuniteitsiekte of hoë bloeddruk het en ander se ouers werk in hospitale en publieke plekke. Een leerder wat op ‘n klein dorpie, naby Bloemfontein, woon is nie bekommerd nie.

3. Het van jou vriende of familie al COVID-19 gehad?
Uit tien Possies wat gekontak is met dié vraag is nege se vriende of familie nog vry van die virus. Een Possie was pas vir twee weke geïsoleer omdat sy afrigter onlangs positief getoets het. Hy het heeltyd in sy bed gebly.

4. Tref jy elke dag al die nodige voorsorg teen COVID-19?
Possies is baie gedisiplineerd met die nodige voorsorg teen die virus. Baie sê dat skoon hande en ‘n masker dra, ‘n nuwe normale lewensstyl is. Sommige leerlinge bly tuis om uit die publiek te bly, maar ‘n stoute Possie erken hy het al ‘n paar keer by ‘n maat gekuier.

5. Dink jy regtig COVID-19 is so ernstig of dink jy dis maar meer ‘n foefie?
Hier was gemengde gevoelens. Sommiges voel dat ‘n deel van dit ‘n foefie is, maar tog ook nogals ernstig. Ander voel dit is baie ernstig en dat tot jong mense die virus kan kry en dalk kan sterf daarvan. Een Possie voel dat mense ‘n groter ophef daarvan maak as wat nodig is, maar dat dit steeds ‘n baie ernstige saak is, veral as jy na CNN en ander nuus kanale kyk.

6. Het COVID-19 jul gesin of van jou familie op enige manier geraak?
Dit was vir my sleg om te hoor dat ‘n hele paar mense, na aan ons Possies, hul werke verloor het en ook nou baie minder geld kry. Essensiële ouers en ouers wat vir die staat werk se werk en salaris is veilig.
Met hierdie onderhoude wat deur Mia Meyburgh, Inke Rademeyer, Nieke Simkin, Lisa Steyn en Savanah Olivier gevoer was het ek besef dat COVID-19 baie probleme veroorsaak het, maar tog ook mense bymekaar gebring het. Ons as Possies moet aanhou positief wees en elke dag in geloof en die nodige voorsorgmaatreëls aanpak, want ons sal hierdeur kom.