Aktueel

GRAAD SEWE, ‘N NUWE JAAR MET NUWE UITDAGINGS!

By 2021-02-20 No Comments

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings en ons almal is baie opgewonde omdat ons uiteindelik almal, elke dag mag skool bywoon.

Ek het met van die graad 7 maats gesels en gehoor of hulle dink die vakansie was te lank, wat hulle alles gedoen het en dan veral iets wat dalk uitgestaan het.
Albertha: “Ek dink nie dat die vakansie te lank was nie. Wat wel vir my te lank was, was die tydperk wat die strande toe was. Wat vir my uitgestaan het, was dat daar eintlik so baie goed is om wel by die see te doen behalwe in die see swem”.
Herman: ”Ja, die vakansie was vir my te lank,want ek het al my vriende gemis. Wat vir my uitgestaan het, was die feit dat ons in ‘n nuwe huis ingetrek het, met ‘n swembad!”
Ananda: ” Nee glad nie te lank nie. Ek was saam met vriende in ‘n fietsry groepie, het baie naaldwerk gedoen en elke dag gaan landloop oefen. Die lekkerste was ons Hartenbos vakansie. Toe die president die strande oopmaak, het ons sommer die volgende oggend gery. Ek het baie ge-”boogie board” en hope roomys geeët.”

Terug by die skool, het ons oor die volgende gesels.
Het jy enige vooruitsigte vir die kwartaal en vir sport?
Albertha: ” Ek wil net die beste van die kwartaal maak, maar ek gaan eers by die saal klas gaan moet aanpas. Ek hoop regtig dat ons wel met sport gaan mag begin. Dit sal die jaar net soveel lekkerder maak”.
Herman: ”Ek wens dat alles kan terugkeer na normal.”
Ananda: “HOKKIE!!! Ek hoop ons kan hierdie jaar weer speel”.

Het jy al gewonder oor jou grootste vrese/vreugdes vir die jaar, vertel bietjie?
Albertha: ” My vrese is maar oor die werk en dat ek nie gaan kan byhou nie. My vreugdes vir die jaar is dat ons wonderlike onderwysers het en dat ek weet dat ek eintlik oor niks bekommerd hoef te wees nie”.
Herman: ” My vrese is vir ‘n terugkeer na level 5 inperking en my vreugdes is dat ons elke dag kan skooltoe gaan en ek my vriende kan sien.”
Ananda: ” My grootste vrese is dat my laaste jaar in WP gaan verby gaan sonder dat ek kan hokkie speel, koor sing of sokkies saam met my vriende kan bywoon. My grootste vreugde van die jaar is privaat hokkie toernooie en kuiers saam met my vriende”.

Hoe voel jy oor die feit dat dit jou laaste skooljaar by WP is?
Albertha: ” Dit is baie hartseer om uit so ‘n wonderlike skool te gaan met sulke wonderlike onderwysers. Ek is tog opgewonde vir die hoërskool”.
Herman: ”Dit is sleg vir my dat dit my laaste laerskool jaar is, want WP is ‘n lekker skool, maar saam met dit sien ek ook uit na die hoërskool, want dit is ‘n nuwe hoofstuk in my lewe.”
Ananda: ”Ek wil graag my laaste skooljaar baie geniet en goeie herinneringe maak. Ek hoop daar is geen “lockdowns” wat sal maak dat ons uitmis op ons laaste laerskooljaar nie. Ek sal WP baie mis in 2022, maar sien ook baie uit om in die hoërskool te wees”.

Daar het julle dit! Lekker pret in die lang vakansie met swem, fietsry, visvang en roomys eet. Met baie nuwe verwagtinge vir ‘n wonderlike laaste jaar aan Willem Postma laerskool. Geniet dit graad 7’s.